| Oupa van der Merwe se Boeretroos is ook beskikbaar in treksakkies (infuserbags). Probeer gerus ons koffie in jou enamel of vlekvrye staal koffiepot. Gooi 400ml kookwater by elke sakkie, prut vir 5 minute en laat trek vir nog so 10 minute.
As jy die heeldag gaan rondskommel in jou fôr-baai-fôr op soek na ‘n wille ding of twee iewers in die Kalahari, sou ons sê gooi daai kookwater bo-op die treksakkies in jou termosfles. Hou jou in vir so ‘n halfuur en jy behoort jou kaffeï nvlakke redelik stabiel te kan hou. Dit hang nou af van hoeveel termosflesse jy op jou naam het.
Brand jou eie koffie, nes oumagrootjie
Voorverhit jou oond teen 180˚C.
Was 250gr rou koffiebone, maak effens droog en strooi in ‘n enkellaag op ‘n bakplaat.
Hou die bone dop en roer elke 3 minute laat dit ongeveer vir 30 minute lank brand. Dit moet uiteindelik ‘n kastaiingbruin kleur hê. Laat op ‘n koue bakplaat afkoel.
Vir die beste en geurigste koffie: hou die geroosterde bone in ‘n lugdigte houer en maal slegs genoeg om elke keer te gebruik.
Koffiebone kan ook in n swaarboompot op ‘n warm stoofplaat gerooster word, maar dan moet die pitte aanhoudend geroer word, om te keer dat dit brand.
|